Omstandighede en Drome

droom-realiteitDalk is dit net ek, maar partykeer wonder ek of ander mense dit ook ervaar?

Dat jou onmiddelike omstandighede (terwyl jy slaap) ‘n droom kan ontlok of die einde van ‘n droom kan beinvloed?

Kom ek probeer verduidelik:

Ek het eergisteraand oor my kat gedroom. Die storie van die droom is nie hier belangrik nie, maar wel hoe die droom geëindig het. Ek het op ‘n stadium op ons sitkamerbank gaan sit, so half gelê met my voete op ‘n koffietafel. Die volgende oomblik het my kat op my gespring en homself tuisgemaak op my borskas en begin spin. Ek wou net uitreik om hom te begin vryf, toe ek wakker word. En wie vind ek vas aan die slaap op my borskas? My kat! Hy het nou wel nie gespin op daardie oomblik nie, maar toe ek hom begin vryf toe strek hy uit en spin van lekkerte.

Ek het al heelwat soortgelyke drome gehad deur die loop van die jare.

Verskillende drome wat gekoppel is aan my selfoon wat langs my op die bedkassie in realiteit lui, maar dan weef my spinnekoppie brein die snaakse drome.

Ek sal droom ek bly net ‘n klomp sms’e inkry en dit stop nie. In die droom is dit gewoonlik net ‘n beep met elke sms wat inkom. Ek is later, seker uit frustrasie uit, wakker en kom dan agter my selfoon lui.

Ander drome is waar ‘n deurklokkie aanhoudend lui en ek kan net nie by die deur uitkom nie, en dan skielik wakker word en hoor my foon lui of die wekker wat afgaan.

Ek het ook ‘n interessante ervaring gehad met ‘n droom wat ek gehad het toe ek nog op skool was. Ek het gedroom ons was as gesin met vakansie, en ek het ‘n ou op die oord ontmoet. Daar was ‘n oomblik waar hy my hand vasgehou het, en net toe ons mekaar wou soen, toe word ek wakker. Ek onthou nog goed dat ek so daar in die donkerte ingestaar het, en besef maar dit voel nogsteeds asof ek iemand se hand vashou. Soos ek verder ontwaak, kom ek agter dat ek ‘n deel van die kombers so half opgevrommel in my hand hou.

En nie te vergeet van die toilet droom nie. Ek sal droom dat ek of glad nie by die toilet kan uitkom nie, of ek gaan wel, maar sodra ek opstaan is my blaas nog vol en moet ek weer en weer en weer my blaas ledig. Totdat ek uiteindelik wakker skrik en besef my blaas is vol!

Vertel gerus julle drome, waar realiteit en droomland net-net aanmekaar raak 🙂

#drome, #realiteit

Spinnekop is terug :)

_80912281_153781677Jong.. waar het die tyd heen gegaan? En waarheen het my spinnekop-brein verdwyn?

Dit was heel toevallig dat ek op een van my OU posts op my OU spinnerak-blog afgekom het, en soos ek lees besef ek maar EK het dit geskryf!! hahahah 😀

En was dit nou ‘n tammeletjie om te probeer onthou wat my login informasie is om in te teken.. Dit het my ‘n hele twee dae besig hou, maar ek is in. Ek is terug en reg om nog spinnerakke te weef.

Sooooo baie het gebeur in die laaste paar jaar. Ons het ons huis verkoop en na ‘n ander stad verhuis. My amper man het my amptelike man geword. Ons al drie; ek, my man en ons seun het nuwe hoofstukke begin en nie net ‘n nuwe omgewing nie. My seun, ‘n nuwe skool. My man, ‘n nuwe werk. En ek? Ek het nou my eie besigheid en werk vanuit my nessie.

Ons omgewing het verander (dis warmer waar ons nou is) maar ek LOVE dit. Ek is nou regtig nie ‘n gogga vir koue nie! Wat wel dieselfde gebly het, is my kop vol spinnerakke 😛 en ek sien daarna uit om weer te blog. Om te skryf, of te probeer neerpen wat in my kop aangaan is soos ‘n vere-stowwer vir my brein. Dit is nou al so stowwerig hier binne ek moet weer begin skoonmaak. Al die ou spinnerakke afstof sodat ek weer nuwes kan weef.

En hoe gepas is dit nie dat ek met lente weer begin nie. Mag jul almal ‘n heerlike lente beleef!

#lente, #spinnekop, #spinnerak, #terug