Spinnekop se Spinnerak

.. gister se gedagtes is vandag se spinnerak ..

Al ooit gewonder .. ? 22 September, 2009

Filed under: Sommer Net — Spinnekop @ 9:46 vm

droomHet julle al ooit gewonder wat het die dag se gebeure met jou drome ingemeen? Ek weef gereeld daaroor..

Kyk net wat het laasweek gebeur. Ons het by die werk gesit en gesels oor wat van as die kantoor afbrand, al die data wat ons hier sal verloor. Alhoewel meeste van ons goed off-site gestoor word, is hier maar nogsteeds belangrike informasie wat verlore sal wees.

Soos die gesprek vorder, spot ek ook daarmee dat ek ‘n nota op my pc by die huis gaan sit, om asb my hardeskywe te los as iemand nou wel my pc wou steel. Daardie aand in die bed, EN ALLEEN BY DIE HUIS, besluit ons alarm om my hartkloppe aan te jaag. Die een deur se sensor het nonsens gemaak, en elke nou en dan gaan beep-beep die alarm. Nou elke deur in ons huis gee so beep-beep geluidjie as dit oopgemaak word.

Uiteindelik na 2 en ‘n half ure stop dit, en ek raak weer aan die slaap. Dis toe ek mos nou droom van 2 skelms wat ons huis wil kom leegdra.. lees hier

So nou ja.. ‘n week later en ek dink nou weer aan dit. Drome fassineer my nog altyd!

En ek glo nie aan ‘n boek wat vir jou verduidelik dat as jy van ‘n spesifieke ding droom dit nou net ‘n spesifieke ding beteken nie. Ek glo ook net jy self kan jou droom interpreteer en die betekenis daarvan kry. En net ‘n woord, of ‘n gesprek, of selfs ‘n ou kennis wat jy raakloop in die dag, kan BAIE interessante nagevolge hê vir jou drome wat vir jou wag die aand!

 

Iets om oor te dink.. 17 September, 2009

Filed under: Sommer Net — Spinnekop @ 11:36 vm

dinkEk lees nou ‘n stukkie van die wat die 1930s tot 1980s oorleef het op ‘n blog (lees hier) en nou ja, nou werk my spinnekoppie weer oortyd en weef soos ‘n waansinnige..

ja.. ons het baie oorleef.. maar die vraag wat nou hier in my kop vashaak.. is Hoekom is vandag se kinders sulke “binne-kinders” en soos NetJane se kommentaas sê die kinders sê nie dankie nie?

Ek glo die ouers van vandag het BAIE te doen met die opbring van hul kinders om hul waardes te leer en om te leer om asseblief en dankie te sê..

KOMAAN ouers.. julle was die kinders wat die 1930s tot ’80s oorleef het, wat buite gespeel het en respek getoon het.. en WAAR het ons dit geleer.. BY ONS OUERS wat tien teen een by die huis was waar ons kon SIEN en ERVAAR hoe ons ouers met anders mense oor die weg kom.

Nou werk ons almal is moeg as ons by die huis kom en jak die kinders af omdat ons nog moet kosmaak en huisskoonmaak en al daai dinge! Ek glo DIS waar ons kinders nie respek leer nie..

Ja ek is ‘n werkende ma, en ja ek is ook skuldig daaraan om ook partykeer net maar gou die tv op cartoon network te sit as ek nog soveel huistake het wat gedoen moet word. Maar meeste van die tyd besef ek.. my hene dis mos nie reg nie..

die kinders kan nie vandag in die strate rondhang saam tjommies tot aandete nie.. dit IS te gevaarlik.. maar om moeite te doen vir ‘n halfuur tot ‘n uur wanneer jy by die huis kom om saam jou kinders bietjie buite te speel en met aandag te luister na hulle vertellings van die dag se gebeure en af te gaan op jou hurke om hul herhalende vrae te beantwoord, is nie net tot voordeel van jou kinders nie.. maar vir JOUSELF ook..

hulle word so gou groot en ons werk vat BAIE meer ure op as wat ons ons kinders sien.. ons kan gerus bietjie meer tyd met hulle spandeer. Dit doen almal net die wêreld se goed..

 

Julle kan my PC steel, maar LOS my HDDs 16 September, 2009

Filed under: Drome — Spinnekop @ 10:33 vm

Ek en my man het op die bed in die hoofslaapkamer gesit. Hy het op sy laptop gewerk en ek het hom net geselsskap gehou. Die huis is stil, want seuna slaap uit.

Die volgende oomblik is daar 2 mans in die huis, hier reg voor ons. Hulle het aangedring om die laptop te vat en manlief het dit vir hulle gegee. Hy het vir my gesê, soos die 2 skelms uit die kamer stap, dat dit die werk se laptop is en geglimlag.

Ek sien die 2 is oppad na die studeerkamer en die eerste ding wat deur my kop gaan is AL my fotos wat op my pc is. Ek spring daar op en woede neem binne my oor. Hulle gaan NIE my hardeskywe saam hier wegvat nie! Ek vlieg in die studeer kamer in met manlief kort op my hakke. Ek vertel toe vir die 2 skelms dat as hulle nou regtig my rekenaar wil steel, gaan ek eers my hardeskywe uithaal, sommer so terwyl ek klaar ‘n skroewedraaier gegryp het en die boks begin oopmaak. Die een is nog ewe behulpsaam om my te help die goed uithaal en daar breek hy ‘n draadjie af op die motherboard.

“Dom doos!” skree ek. “Kyk nou net wat doen jy! Jy het nou die motherboard opgeneuk! Van alle dinge die motherboard, nou wil jy dit nogsteeds steel en die ding gaan nie eers meer werk nie!! Jou stupid voël!!”

Die ou was so verbaas en ek kon voel hulle albei voel ge-intimideer. Ek hou toe voort met die woede-front en intussen gaan steek manlief AL ons “belangrike” besittings weg. Ek vra sommer die manne of hulle nie my kar ook wil steel nie, want hoe de hel gaan hulle hier wegkom met al die goed wat hulle al eenkant gepak het. En wragtig sê hulle vir my NEE!!

Toe weet ek mos daar is dan OF ‘n wagkar klaar buite OF een nog oppad.

Intussen het manlief al die polisie laat weet, maar AL wat opdaag is mos hulle.

Ek los die 2 manne laat hulle maar aangaan om goed bymekaar te maak, en gaan bêre my hardeskywe en my kamera onder in die kroeg. Dis toe ek sien dat daar ‘n paar mense buite staan, insluitend my pa, en stap sommer soontoe. Dis al skemer buite.

Manlief is besig om al die belangrike goed in die geheime area in die garage te stoor. Hy gaan haal ook die goed wat ek onder die kroeg gesit het. Ek is seker dis nou al meer as ‘n halfuur wat verby gegaan het en die polisie het nog nie opgedaag nie. Daar is heelwat mense in die straat buite.

Skielik kom daar ‘n wit kar om die draai, so ou toyota boks shape kar. Hy ry reg in ons drive-way op en stop en blaas toeter. Daar is al klaar 5 mans in die kar. Die 2 mans in die huis kom uitgehardloop met ‘n paar goed in hul hande, sien al die mense wat hulle aanstaar, laat val ons goed, spring in die kar, en daar trek hulle weg.

Nog voor die wit kar om die draai is, kom 2 polisie manne aangeloop. AANGELOOP!! Kan jy glo?

Een van die polisie-manne is ‘n groot meneer. Byna 3 koppe langer as ek, maar ek is nou hoogs de maai in. Ek klap hom sommer terwyl ek op om skree en tekere gaan. Hoekom NOU eers hier aankom. En dit nog op voet ook! Die skelms is dan al klaar weg!!

Sonder ‘n woord het hulle ook die pad weer te voet aangeslaan. Terug in ons huis, sit manlief my pc weer aanmekaar, en als werk honderd persent.

Ek was nog besig om hom ‘n lekker stywe druk te gee, toe word ek wakker!!Dankie tog dit was net ‘n droom!! :P

 

Mans en veiligheid.. 17 Augustus, 2009

Filed under: Sommer Net — Spinnekop @ 9:35 vm

Gisteraand, net na die son gesak het, onthou ek, ek het nog wasgoed wat nog moet afkom van die draad. Terwyl ek die wasgoed afhaal, skiet daar skielik ‘n vraag in my kop. Hoekom voel ek nie vanaand so bang om die wasgoed alleen in die donker met ‘n flou lig af te haal nie? Maar laasweek, toe ek alleen by die huis was, het ek die wasgoed maar op die draad gelos en eers gaan afhaal toe die son opkom!

Kan dit regtig wees dat ‘n man in die huis ‘n vrou soveel veiliger kan laat voel?

As liefie van die huis af weg is vir ‘n paar dae, dan hoor en annaliseer ek elke geluidjie. Ek kan dit ook nie waag om met die ligte af te slaap nie. My hart hou dit nie, want hoor ek iets, sien ek skaduwees sodra my oë oopgaan en gaan my hart in turbo-boost in! En al weet ek dis net my verbeelding, wil my malende gedagtes maar net nie luister nie!

Maar nou dink ek aan gisteraand, ek, alleen buite en liefie in die huis besig om te bad. Hoekom voel ek so gerus? Hoekom spring my hart nie met elke geluidjie nie? Hoe kan dit wees dat ‘n man, al sit hy kaalgat in die bad, my die gemoedsrus gee om alleen buite te gaan wasgoed afhaal!? My te laat slaap in die donker!? My hart in toom hou met al die naggeluide wat net op ‘n alleen-aand so vreemd en hard en naby klink!?

 

30 is nou om die draai!! 13 Augustus, 2009

Filed under: Sommer Net — Spinnekop @ 1:23 nm

Hierdie spinnekop word 30 oor 10 dae!! 8O

Ek kan dit byna nie glo nie. Die tyd loop te vinnig verby.

As ek nou terugdink aan toe ek nog jonger, veel, veel jonger was..

Ek onthou toe ek nie kon wag om ‘n tiener te word nie. Vir een of ander rede het ek geglo dat ek op my 10de verjaarsdag nou ‘n tiener is. GROOT was my teleurstelling toe ek uitvind ek moes NOG 3 jaar wag :x

Drie jaar en ‘n dag later, toe tel ek al die dae af na sweet 16, en skaars daar klaar geparty wag ek 18 in. Nou hierdie is eintlik ‘n aaklige ouderdom, veral as jy nie veel niggies en nefies het wat dieselfde ouderdom as jy is nie. Die jongeres is te kinderagtig en die grootmense is nog te boo :| ooring om mee uit te hang. So al wat te doen staan is om na die MOTHER van MOTHER se verjaarsdag af te tel.. (wel dis hoe dit gevoel het om uit te sien om 21 te word, vir my altans, en jong tyd het soooo s-t-a-d-i-g verby gegaan)

En die dag van 21 het gekom en dit het gegaan, en niks.. NET NIKS.. geen gevoel van nou is ek groot nie. Ek het ‘n heerlike party gehad, lekker gedans, heeltemal te lekker ge-eet. En tot die besef gekom volwassenheid gebeur nie net oornag nie, en dis ook nie ‘n gevoel nie! Maar die jare na 21 vlieg net te vinnig verby!!

Snaaks genoeg sien ek daarna uit om 30 te word. Al was ek op my 25ste half depro..

‘n Mens, veral ‘n meisie (of seker was dit net ek) het regtig geglo ek sou al op 25 getroud wees en ten minste al een broodjie in die oond gehad het. Maar ja.. die lewe loop ook met mens paaie wat BAIE anders is wat jy voorgestel het dit sou wees. En op my 25ste verjaarsdag het ek met ‘n brood in die oond gesit en die bakker het verdwyn :? Dit was eintlik ‘n blessing in disguise !!

Maar nou, ek kan amper nie gelukkiger wees nie! Ek het 3 jaar terug die wonderlikste man ontmoet, wat my en my seun net so aanvaar en liefgekry het. Al wat nou kort om die amper uit bg. sin uit te haal, is die vraag.. Die groot vraag waarvoor ek klaar die -ja- antwoord reg het :D

Vir nou, gaan ek dit eers geniet om 30 te word. En vir so voorsmakie van volgende naweek se verigtinge, dink HAMBURGERS!! :P

 

Beter weer!! UITEINDELIK :) 12 Augustus, 2009

Filed under: Sommer Net — Spinnekop @ 11:48 vm

Ja.. lekker warmer weer is uiteindelik hier.. en ek sit sonder my  manlief by die huis :( hy is landuit vir ‘n paar dae.. vir werk..

Ek hoop regtig ons het die laaste van die ergste koue gesien, of laat ek eerder sê, gevoel.

My griep is ook amper iets van die verlede. Die antibiotika het vinnig ingeskop, maar ek het die langnaweek so gesukkel met ‘n hoofpyn wat nie wil weg nie!! GRRRR.. dis haatlik!! Nou weet ek nie of dit die pille is wat die dokter my gegee het wat die kopsere so aangebring het nie, want van Vrydag sukkel ek met kopseer en Sondag met ‘n HELSE migraine, nadat ek Saterdag besluit het ek gaan nie weer die pille drink nie het ek darem Maandag weer my ou self gevoel.

Nou sit ek met nog ‘n paar pille antibiotika en ek gaan dit beslis nie nou drink nie.. ek wil nie die kans vat as NOG pyn my voorland gaan wees nie..  :?

Saterdag oggend was dit net ek en my sussie en my ma, wat lekker window-shopping gedoen het, en ‘n heerlike ontbyt by Wimpy geniet het. Ek kan nie onthou wanneer laas net die drie van ons bietjie saam uit was nie. Dit was beslis goed vir al ons siele..

Sondag.. ja wel.. ek WOU wasgoed was en stryk (ja ek doen dit self) maar toe het my kop mos nou ander planne. So ek het dit maar probeer rustig vat. Ek kon my liefie stukkend druk van blydskap en verligting toe hy sê hy gaan maar kos gaan koop.. shame, hy was seker al so honger.. :lol: en jong daai slaptjips wat ek sommer in sout gedoop het, het wondere vir my krag gedoen..

So te danke aan Sondag se aaklighede, was my planne om Maandag rustig te vat VER uit die venster. Dit was maar was en stryk! :roll:

So ja.. hoe was al julle ANDER mense se naweek.. :D

 

Bumper Stiekir.. 6 Augustus, 2009

Filed under: Sommer Net — Spinnekop @ 9:19 vm

Vanoggend ry ‘n bakkie voor my met die volgende “Bumper Sticker” op ::

My hart is in die Bosveld
maar my gat is in die stad

Dis omtrent hoe ek voel..

Ek is mal oor die buite-lewe, veral die rustigheid van die bosveld en al die diere wat daarmee gepaard gaan. Ek sal wat wil gee om nou eerder in die bosveld te bly en elke dag net te doen waarvoor ek lus is daai dag. Of dit nou gaan rondloop of ry en diere bekyk, of op my gat sit en niks doen, of onder ‘n koelte boom op ‘n kombers lê en boek lees, of werk, enige werk, maar net wanneer ek lus is ;)

Nou sit ek in ‘n dorp wat so paar jaar terug verklaar was as ‘n stad! So ja my gat is in die stad.. besig om te werk om kos op die tafel te voorsien vir my gesin. Ek dink as ek nou EEN wens gehad het.. sou ek wens dat ek elke keer net my hand in my sak kan sit en die presiese bedrag geld uittrek wat nodig is om te betaal waarvoor ek ookal moet betaal op daai oomblik. Ek soek nie te veel nie.. ek soek net genoeg.. :lol:

Dan kan ek my gat UIT die stad kry om my hart te gaan ‘join’ in die bosveld. Want dan is daar altyd genoeg geld om te voorsien wat voorsien moet word..  NO WORRIES :?

 

lekker?? siek!! 5 Augustus, 2009

Filed under: Sommer Net — Spinnekop @ 2:29 nm

Die winter is so ampertjies amper verby. En net toe ek nou dink ek het die verkoues en griepe hierdie keer verby gespring, het die my nou sowaar onder lede gekry :(

Sommer net so skielik! Ek het toe maar vanoggend na ‘n swaer nag se probeer slaap, baie droë en seer keel, en verskriklike swaer voel soos ballon kop, besluit om maar die keer sommer dadelik dokter toe te gaan.. wat help dit tog om myself te probeer dokter met allerhande goeters van die apteek, dan raak ek beter en daarna nog ERGER siek :x

Nou het ek darem net 2 pilletjies om te drink (3 keer ‘n dag) so laat ek nou maar sien of ek gouer hieroor gaan kom as om myself eers te probeer reg dokter.. Ek haat dit om so dik koppig te voel.. my kop voel so swaer :cry:

Is daar mense daarbuite wat ooit die winter deurmaak sonder om eens ‘n verkoue te kry!? As jy een van hulle is, ag deel asb toe jou gesondbly geheimpie.. ;)

 

dis VREK koud.. 3 Augustus, 2009

Filed under: Sommer Net — Spinnekop @ 1:51 nm
Tags: , , ,

Jong.. hierdie naweek was dit nou omtrent koud in ons geweste! En hier het ek gedink ek gaan bietjie sonskyn sien en beddegoed was.

Maar ja, dit was reen en nogmaals reen en die beddegoed gewassery moet maar wag tot ‘n ander naweek.

Ek moet seker maar dankbaar wees die son skyn vandag, al is daar ‘n yslike knyp in die lug. Ek is nou maar net nie ‘n wintermens nie, en ek is nou al tot hiertoe verby siek van hierdie koue.  My vingers kry die koudste, die dat ek al van skooldae af geleer het om byna alles met handskoene aan te doen. Ek tik en skryf met handskoene en ja ek kan selfs ‘n boek lees (die blaaie omblaai) met my handskoene aan.. dit kom van jare se oefening elke winter, want sonder die handskoene kan ek amper nie eens my vingers beweeg nie.. ;) Net jammer my liefie dink nie dis so goeie idee om my hande teen sy warm rug te ontdooi nie.. :P

Ek hou my gevriesde duimpie baie styf vas en hoop die was nou die laaste ergste koue vir die jaar!!!

My vingers kan nie meer nie… !!!! :(

 

Vrydag.. 31 Julie, 2009

Filed under: Sommer Net — Spinnekop @ 8:52 vm
Tags: , ,

Jippee.. vandag is uiteindelik Vrydag!!

Eintlik nog bietjie vroeg om te vier, maar ja, dis nietemin Vrydag ;) Al is die strate nog vuil en ons asblikke nog vol!

Ek sal maar vandag my werk deurdruk, want hoe vroëer dit klaar is, hoe beter.. dan kan ek bietjie op die internet gaan rond loer vir idees vir uitnodigings na my ‘PARTY’.

Ja ek word 30 oor minder as ‘n maand, en snaaks genoeg (vir ‘n vrou ja) sien ek nogal uit na die GROOT 3-0.. heheh..

Ek moet my uitnodigings maak en uitkry.. ek is nou maar een wat daarvan hou om al die goed self te maak. Van die uitnodigings tot die koek :)

Julle moet almal ‘n HEERLIKE Vrydag hê, en ‘n BAIE LEKKER naweek. Dit voel darem of hierdie naweek bietjie warmer sal wees, ek is nou al SO MOEG van die koue!! Ek tel die dae af na lente-dag.. Al is dit koud daardie dag sal my gemoed al klaar beter voel net om te weet die winter is darem op die kalendar al verby..

Ek dink ek moet ‘n aftel-tieker na lente en somer hier oplaai!! heheh.. ja laat ek maar eers bietjie werk..